Wat doen lees aan my brein?

Lees ook :

Ek het grootgeword in ‘n besigheid-georiënteerde huisgesin. Daar is soveel meer waarde aan logika en kennis geheg as om kunstig of kreatief te wees. Laasgenoemde is as stokperdjies of tydverdryf beskou.

LEES MEER: Beheer jy jou gedagtes, of beheer hulle jou?

Dus, alhoewel my passies meer as skrywer en inhoudskepper is, het ek dit nog altyd geringgeskat omdat ek dit as “nie so gebruikbaar” of “nie so belangrik” soos die ander eienskappe gesien het nie. Gelukkig het hierdie verkeerde houding van my lankal verander en ek leef myself uit as wie ek geskape is eerder as wie ander dink ek moet wees.

Nou die dag tref ‘n interessante gedagte my: Daar word mos gesê dat mense linkerbrein- of regterbrein-dominant is. Linkerbreinmense is gewoonlik ingestel op tale, syfers, kritiese denke en logika, waar regterbreinmense weer ingestel is op kreatiwiteit, verbeelding, emosies en om meer instinktief te wees. As die een dan nou belangriker as die ander is, hoekom hou elkeen dieselfde hoeveelheid spasie in jou skedel, mooi netjies ‘n halwe brein?

Maar net soos enigiets in die lewe wat jy moet kultiveer of verbeter, het jy ook nodig om jou regterbrein in kreatiwiteit te oefen. Ek vind dat ‘n goeie manier om dit te doen, is om boek te lees. Kyk, ek is darem stout vir ‘n lekker fliek oor die naweek, of sy kleiner weergawe bekend as ‘n series op weeksaande. Maar ongelukkig laat dit nie veel vir die verbeelding nie, want jy sien en hoor maar presies wat hulle jou voer.

As dit kom by ‘n goeie boek, word jy net genoeg gegee om jou verbeelding aan die werk te sit. ‘n Karakter word nie uitgebeeld soos op ‘n TV-skerm nie, maar daar word eerder slegs ‘n paar kort, kenmerkende eienskappe gegee, bv: “Haar bondel pikswart hare tuimel af tot by haar heupe en lyk meer as haar hele lyfie.” As ek hierdie lees, dan sien ek vir Wednesday Adams op Netflix met lekker lang hare, maar jy kan dalk ‘n Japannese anime meisie sien wat karate doen. Sien jy hoe word jou verbeelding lewendig met net ‘n paar woordjies?

Nou verbeel jou dit neem ‘n jaar om ‘n goeie fantasiefliek soos Lord of the Rings te maak, en jy kyk ‘n saamgeperste weergawe binne drie uur klaar. Jy kan daardie selfde boek neem en weke of selfs maande daaraan lees, en die wonderlikste avonture in jou verbeelding skep wat geen fliek ooit sou kon doen nie. Dink net hoeveel kreatiewe denke moet plaasvind om daai wit-en-swart boek van jou in te kleur en vorm te gee deur al die blaaie heen?

Dus raai ek jou vandag aan om ‘n lekker boek op te tel en te begin lees, maak nie saak aan watter deel van jou brein jy voorkeur gee nie.

En indien jy tans besig is met ‘n boek, watter een is dit?

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App