VRYSTAAT. – Jan Gysbert Maritz (58), ’n prokureur van Welkom, is Vrydag op 16 klagte van ernstige seksuele misdrywe teen vyf minderjarige kinders in die Bloemfontein-hooggeregshof gevonnis. Die prokureur, wat ook ‘n stiefpa is, is tot drie keer lewenslange tronkstraf, plus addisioneel 61 jaar, gevonnis.
Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die saak is op 25 Maart 2019 by die Thabong-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe aangemeld, toe die ma van twee slagoffers beweer het dat haar dogters seksueel deur die stiefpa misbruik is. Kapt. Fanie van der Merwe het die ondersoek gelei en ‘n patroon van misbruik oor ’n dekade (2007–2017) aan die lig gebring, waar vyf kinders onder die ouderdom van 14 jaar slagoffers geword het. Die jongste slagoffer was net sewe jaar oud toe die misbruik begin het. Die hof het bewyse gehoor dat die stiefpa die kinders seksueel voorberei het, hulle aan pornografiese materiaal blootgestel het, hulle seksueel aangerand het en drie van die slagoffers digitaal verkrag het. Hy het ook dele van die misbruik opgeneem, wat gelei het tot sy skuldigbevinding vir die vervaardiging van kinderpornografie.
Adv. Amanda Bester van die nasionale vervolgingsgesag het die suksesvolle afhandeling van die saak saam met kapt. Van der Merwe verseker. Die vonnisse sluit in; lewenslange gevangenisstraf vir drie gevalle van verkragting, vyf jaar gevangenisstraf vir onsedelike aanranding, agt jaar gevangenisstraf vir seksuele voorbereiding x 2, vyf jaar gevangenisstraf vir blootstelling aan pornografie aan ’n kind x 2, vyf jaar gevangenisstraf vir seksuele uitbuiting van ’n kind,
vyf jaar gevangenisstraf vir vervaardiging van kinderpornografie, drie jaar gevangenisstraf vir seksuele aanranding x 5, vyf jaar gevangenisstraf vir gedwonge seksuele aanranding, vyf jaar gevangenisstraf vir gedwonge seksuele aanranding
Die polisie moedig enigiemand met kennis van kindermishandeling of seksuele misdrywe aan om dit onmiddellik by hulle naaste polisiekantoor of GKS-eenheid aan te meld.
Lt.genl. Baile Motswenyane, die provinsiale polisiekommissaris, het die vonnis verwelkom en sê: “Die gruwelike aard van hierdie misdrywe, wat oor jare deur iemand in ’n posisie van vertroue en gesag gepleeg is, het ’n vaste reaksie vereis. Ons vertrou dat hierdie skuldigbevinding ’n mate van afsluiting en geregtigheid vir die vyf jong slagoffers en hulle gesinne bied.”





