GAUTENG. – Women For Change (WFC) het Donderdag ’n aanlyn noodvergadering met verskeie ministers gehad om die verklaar van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord as ‘n nasionale ramp te bespreek.
Die virtuele vergadering het onder andere Velenkosini Hlabisa, die minister van koöperatiewe bestuur en tradisionele sake, Angie Motshekga, die minister van verdediging en Nokuthula Nqaba, die sekretaris-generaal van die ANC Vroueliga ingesluit. Women For Change het reeds sedert April ‘n vergadering versoek. Die organisasie het ook ’n nasionale stilstand vir 21 November, die dag voor die aanvang van die G20, aangekondig met die slagspreuk: “Wanneer vroue stop, stop die wêreld.” Die petisie om die nasionale ramp te verklaar, het met die ter perse gaan reeds meer as 1 miljoen handtekeninge gehad.
Terselfdertyd het die spesiale ondersoekseenheid die GBVF First Responder Programme van stapel gestuur. Die inisiatief skep ’n nasionale netwerk van opgeleide reaksiepersoneel om onmiddellik ondersteuning en verwysingsdienste aan oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld te bied. Die bekendstelling het saamgeval met ’n nasionale dialoog oor GBVF, met die tema “Prevent Today, Protect Tomorrow”, wat die spesiale ondersoekeenheid se rol as koördineerder van multi-sektor-samewerking versterk het. Die dialoog het regeringsinstansies, burgerlike samelewingsorganisasies, tradisionele leiers, mans- en jeugnetwerke, private maatskappye soos Vodacom en internasionale liggame soos die VN se Office on Drugs and Crime en die German Agency for International Cooperation ingesluit.
Volgens die ondersoekeenheid fokus sy magte op ondersoeke na korrupsie, wanadministrasie en wanpraktyke in staatsinstellings. Terwyl hulle geslagsgebaseerde geweld nie direk kan ondersoek nie, dra die First Responder Programme by tot voorkoming, opvoeding en versterking van stelsels op gemeenskapsvlak. Die publiek word aangemoedig om voorvalle van hierdie soort geweld aan die polisie by 10111 of die Gender-Based Violence Command Centre by 0800 428 428 te rapporteer.
Die kombinasie van Women For Change se vergadering met ministers en die spesiale ondersoekeenheid se nuwe programme wys ’n verskeidenheid pogings in Suid-Afrika om geslagsgebaseerde geweld te bekamp, gemeenskapsveiligheid te verbeter en aanspreeklikheid te bevorder.
Bronne: WFC, SOE, The Witness





