KWAZULU-NATAL. – Die koninklike familie van die Zulu-nasie het die afsterwe van uNdlunkulu Thoko Gladys Zulu met hartseer in ‘n verklaring aangekondig. Die verklaring is deur KingMisuZulu op Facebook gedeel. Die oorledene was ’n gewaardeerde lid van die koninklike familie, wat die oggend van 27 Junie 2025 oorlede is.
Luidens die verklaring was uNdlunkulu die eggenote van wyle senior prins Mcwayizeni kaSolomon van Nxangiphilile. Prins Mcwayizeni was vanaf 1968 regent ná die dood van koning Bhekuzulu en het ook as regent opgetree voor die inhuldiging van koning Zwelithini in 1971. Sy is as ‘n gerespekteerde figuur bestempel wat as opvoeder op ‘n betekenisvolle wyse tot die kerk en koninklike sake bygedra het.
Koning Misuzulu, die koninklike familie en die hele nasie betreur haar heengaan. Sy sal op 5 Julie om 09:00 by Mahhashini Garden ter ruste gelê word.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





