NOORD-KAAP. – Coert Botha (47) is Vrydag vir seksuele misdade teen kinders in die De Aar-streekshof tot 66 jaar gevangenistraf gevonnis.
Sers. Timothy Sam sê die misdade is tussen September 2019 en April 2021 teen kinders tussen die ouderdom van 9 en 14 jaar gepleeg.
Sam sê die hof het gehoor hoe die beskuldigde die jong seuns na sy huis gelok en seksuele misdade, wat verkragting insluit, gepleeg is. Die polisie se ondersoek het meer slagoffers na vore laat kom, waarna Botha vir 13 aanklagte in hegtenis geneem is.
Botha is vir aanklagte van onder meer verkragting, ontbloting, uitstal van pornografiese materiaal en die blootstel van kinders aan selfmasturbasie skuldig bevind. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word en Botha se naam sal in die nasionale register vir seksuele misdadigers aangebring word. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Lt.genl. Koliswa Otola het speur.sers. Ilse Fan se ondersoekwerk en die sukses met skuldigbevinding saam met adv. Tevaughnay van Wyk geprys.





