Een minuut met Marita van der Vyver

Lees ook :

Een minuut met Marita van der Vyver

Die bekende skrywer, Marita van der Vyver, dink stories uit so ver terug as wat sy kan onthou. As vyfjarige het sy met lomp vingers geleer om letters op papier te vorm en daardie letters het volgens haar vanself in storietjies verander.

“Wat gehelp het, was dat ek ’n skaam kind was wat my toevlug in boeke gevind het.” Sy vertel die stories in boeke het haar soveel vreugde verskaf dat sy begin droom het om ook eendag boeke te skryf waarin lesers hulle kan verheug.  

As twaalfjarige het sy ’n storie oor ’n hartseer bus vir die radioprogram Siembamba gestuur. Hulle het gedink dit is deur ’n volwassene geskryf, wat haar laat baie trots laat voel het. “Hulle het my bekendgestel as Tannie Marita. Ironies dat ek dit later in my lewe gehaat het om ‘tannie’ genoem te word,” vertel sy.

Kinders grootmaak is dít wat haar gegrond gehou het. “As hulle klein is, is hulle totaal onbewus van jou sogenaamde roem, jy is hulle ma en dis al wat tel.” Haar seun het gedog al sy maatjies se ma’s skryf boeke. “My dogter het gedog ek het alle ‘grootmensboeke’ op aarde geskryf – dis nou boeke sonder prentjies – en was nogal teleurgestel toe sy hoor ek het maar net ‘n paar boeke geskryf.”

Volgens haar was dit veral moeilik om grootkop te kry toe haar kinders tieners raak, juis omdat hulle krities na haar begin kyk het.  “En as hulle volwasse word, hou hulle gewoonlik nie daarvan om jou boeke te lees nie. Jy bly hulle ma, wat dit moeilik maak om jou volgens enige ander maatstaf te oordeel.”

Lesers kan solank opgewonde raak oor ’n nie-fiksie boek wat sy skryf oor die avontuur wat sy en haar Fransman half noodgedwonge moes aanpak. “Ons moes tydens die Covid-pandemie ons groot ou huis verkoop om aan die lewe te bly en toe swerf ons meer as ’n jaar dakloos deur die wêreld.” Sy noem dit spottend hulle “geriatric gap year” en hoop sy kan iets wat sy geleer het aan lesers oordra. “Dit is ’n boek oor vryheid en ontvanklikheid, en word volgende jaar gepubliseer.

Sy moedig aspirantskrywers aan om op te hou verskonings maak om nie hulle storie te skryf nie. “Daar is nooit ’n ideale tyd om ’n storie te skryf nie, die beste tyd is nóú. Kry jou sitvlak op ’n stoel en begin skryf – en druk deur tot die einde.” Vir haar begin die harde werk eers as jy dink jy is klaar geskryf. “ … want dan moet jy dit nog wie weet hoeveel keer herskryf.”

Ten slotte meen sy die feit dat jy self skryf of wil skryf, nooit ’n verskoning is om nie te lees nie. “Inteendeel. Stephen King stel dit eenvoudig: As jy nie tyd het om te lees nie, het jy nie tyd om te skryf nie.”

Foto: Nick Boulton

Lesers kan gerus haar Instagram-blad besoek.

Wil jy alle nuus oor bekendes in jou inboks ontvang? Sluit hier aan:

Teken in op ons nuusbrief - Bekendes

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief