LIMPOPO. – ‘n Man (48) is Vrydag tot 12 jaar tronkstraf vir statutêre verkragting in die Morebeng-landdroshof gevonnis, nadat ‘n buurmeisie (13) geboorte gegee en DNS hom as die pa bevestig het.
Kol. Malesela Ledwaba sê die meisie is in 2017 verkrag, waarna sy swanger geraak het. Die meisie se ma het bewus geraak van die verkragting toe sy sien haar dogter is swanger. Die meisie het toe vir haar ma gesê die buurman het haar verkrag. ‘n Dossier vir statutêre verkragting is geopen en deur sers. Vutomi Precious Nkuna van Giyani-GKS ondersoek. Na die geboorte het DNS die beskuldigde as die pa bevestig.
Buiten 12 jaar tronkstraf is die man ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en sy besonderhede sal in die nasionale registers vir seksuele oortreders aangebring word.





