KWAZULU-NATAL. – Twee voetgangers het vanoggend gesterf toe ‘n voertuig in vyf voetgangers op Isithebe ingeploeg het.
Samantha Meyrick van IPSS Medical Rescue sê ‘n voertuig wat beheer verloor het en in die voetgangers ingeploeg het, is aangemeld. IPSS Medical Rescue en EMRS is na die toneel.
Twee voetgangers is dood verklaar, terwyl een kritiek beseer is. Nog twee voetgangers het geringe beserings opgedoen. Meyrick sê die kritiek beseerde is op die toneel deur gevorderde lewensondersteunende paramedici gestabiliseer en daarna na ‘n hospitaal vervoer. Beseerdes met geringe beserings is deur EMRS na mediese fasiliteite geneem.
Die bestuurder, wat alleen in die voertuig was, het geen beserings opgedoen nie, maar is deur die polisie op die toneel in hegtenis geneem.
Die voorval word deur die polisie ondersoek.





