WES-KAAP. – Autumnsney Jansen (20) se lewelose en naakte liggaam is op 26 April in Diazville, Saldanhabaai deur vissermanne aangetref.
AO Joseph Swarbooi sê Saldanhabaai-polisie het omstreeks 13:00 op ‘n klagte naby ‘n vakansie-oord gereageer. Die liggaam van ‘n onbekende vrou is gevind. Sy is op die toneel dood verklaar.
Die ondersoek duur voort en Saldanhabaai-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
Enigiemand met inligting word gevra om na vore te kom.
Women For Change sê Jansen was glo nog die aand vantevore by ‘n sopkombuis opgemerk. Klere is deur die polisie naby haar liggaam gevind.
Jansen het glo op Middelpos gewoon en by Hoërskool Diazville skoolgegaan.





