NAMIBIë. – ‘n FNB Grootfontein-klubrugbywedstryd tussen Grootfontein en FNB Reho Falcons op Grootfontein het vroeër tot ‘n einde gekom nadat ‘n speler vir Oscar Lambert, die skeidsregter, geduik het.
‘n Video van die voorval word wyd op sosiale media versprei. Daar kan gesien word hoe van die ander spelers ontevrede vir die skeidsregter beduie. Dan hardloop ‘n speler, wat eenkant loop, skielik lynreg op die skeidsregter af en duik hom.
In kommentaar is gesê alhoewel skeidsregters opgelei is, kan foute insluip. Ook word bespiegel oor die regverdigheid van beide spanne en skeidsregters. Skeidsregters word bedank vir die tyd wat hulle opoffer. Oor die spesifieke voorval is daar voorstelle dat die betrokke speler lewenslank van rugby geskors moet word en word gevra of dit ‘n kwessie van disrespek, slegte verloor of slegs swak gedrag is. Voorts is daar die vraag geopper of so ‘n individu ‘n probleem vir seniors in ‘n werksplek sal hê.
Ander persone kon hulleself in die posisie en in die oomblik vereenselwig, maar het gesê die gevolge van sulke optrede sou hulle van die aksie weerhou.
Die FNB Reho Falcon-span het ten tyde van die voorval 19-17 voorgeloop. Grootfontein is vierde op die puntelys, maar die wen van die Reho Falcon-span het hulle in die vyfde plek en drie punte agter Grootfontein gesit.
Bronne: SupaRugby, Sport Wrap en SA Rugby magazine





