WES-KAAP. – Brendon Prinsloo is 18 jaar effektiewe tronkstraf deur die Oudtshoorn-streekhof opgelê. Hy is op ‘n aantal aanrandingsklagtes met die doel om ernstig te beseer, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die doel om te steel, asook diefstal, skuldig bevind.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê altesaam 15 getuies het hulle ondervinding met Prinsloo in die hof vertel. Sy misdaadtog het in 2017 begin toe hy Lu-Anne Pote, sy meisie, brutaal aangerand het. Hy het haar met ‘n klip op die kop gekap, met ‘n houtsaag op die rug geslaan, geskop en geslaan. ‘n Hokkiestok het ‘n fraktuur aan haar linkerarm veroorsaak toe sy vir haar kop wou keer. Sy het geval en hy het ‘n klip opgetel om op haar kop te gooi, toe haar ma tussenbeide getree het.
In 2019 is Relton Stuurman (22) met ‘n panga gedreig en van sy selfoon en identiteitsdokument beroof, Stuart Harcombe (50) is deur Prinsloo en ‘n vriend gesteek en van sy selfoon beroof. André Dido (34) is deur Prinsloo en ‘n vriend van geld, sy baadjie en ‘n hoed beroof terwyl daar gedreig is om hom te steek. Shaun Ayford (35) is gewurg, met pepersproei gespuit en daarna van geld en ‘n musiekspeler beroof. Agmachu Ladamu (36) is met ‘n mes gedreig en van kontant beroof. By Shumaya Damons (23) het Prinsloo ingebreek, maar gevlug toe sy wakker geword het.
In 2020 is Ladamu weer beroof. Dillon Blignaut (25) is dieselfde jaar deur Prinsloo en nog vyf mans gedreig en beroof.
Prinsloo het weggekruip totdat hy in Augustus 2020 deur die polisie in hegtenis geneem is.
Ntabazalila sê Prinsloo is op 14 November 2022 vir ‘n ander saak van roof met verswarende omstandighede tot agt jaar direkte tronkstraf gevonnis.
Prinsloo is nou bykomend vir aanranding met die doel om ernstig te beseer tot drie jaar, vir sewe aanklagte van roof met verswarende omstandighede tot 18 jaar, en vir huisbraak met die doel om te steel en diefstal, tot drie jaar gevonnis.
Die NVG verwelkom die vonnis.





