As jy die naam Usain Bolt hoor, kan ek raai dat die eerste ding waaraan jy dink, is dat dit die vinnigste man in die wêreld i.! Wat as ek vir jou sê dat jy dieselfde kan doen as hy? Sal jy sê ek jok?
LEES MEER: Of jy in ‘n verhouding is of nie, spits jou ore!
Wel, tegnies kan jy, net nie so vinnig soos hy nie. Maar wat is tyd regtig as jy kyk na die groter prentjie? Jy kan ook die 100 m voltooi, dit sal net ‘n paar sekondes langer as syne neem. Dit sal hom dalk weer ‘n minuut langer as jy neem om ‘n aansoekvorm by die bank in te vul. Maar wat maak dit saak? Beide van julle gaan uiteindelik die taak voltooi.
As jy op die atletiekbaan staan en besluit om die 100 m te stap en net elke nou en dan ‘n treetjie gee – raai wat? Jy gaan dit nog steeds binne ‘n paar minute voltooi. Jy wil graag ‘n boek skryf, maar het nie die tyd daarvoor nie? Of jy nou een sinnetjie per dag, of ‘n duisend woorde op ‘n slag skryf, ek waarborg jou jy sal uiteindelik jou doel bereik solank jy aan die lewe bly en nie opgee nie. Dis basiese wiskunde – jy sal uiteindelik daar kom, dis letterlik net ‘n kwessie van tyd.
Nou hoekom is ons mensekinders so snaaks, hoekom gee ons so maklik op? As jy nie die eerste keer die 100 m onder 10 sekondes kan doen nie, dan het jy nou kamstig gefaal en loop weg van die droom. Hoekom moet alles NOU gebeur? Hoekom kan dit nie maar stadig aankom nie?
Iets wat ek al oor die jare geleer het, is dat wanneer dit vreeslik hard reën, is dit nie noodwendig die beste vir die veld nie, want dit loop in stroompies weg nadat dit op die aarde geland het. Maar kry jy nou ‘n sagte, rustige reëntjie wat vir lank neerdaal, dan kry die grond genoeg tyd om al die water te absorbeer sonder dat dit wegspoel.
Moet dus asseblief nie mismoedig word en jou drome opgee nie. Wees rustig, leef jou lewe, want daar is baie dinge wat jou aandag en liefde verg. En as jy konsekwent is en vasbyt, dan sal jy jou bestemming bereik!





