KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou (38) het Woensdag op die hoek van Ireland- en George Sewpersadstraat in Verulam geboorte aan ‘n babadogter gegee. Die gebeure het plaasgevind nadat die vrou skielik kraampyne ervaar het terwyl sy besig was met inkopies.
Reaction Unit South Africa (Rusa) het bevestig dat ‘n gemeenskapslid omstreeks 12:30 mediese bystand versoek het. Met paramedici se aankoms het hulle die vrou en haar pasgebore dogter aangetref, wat met behulp van omstanders gebore is.
Volgens Rusa was die vrou op pad na ‘n taxi-staanplek om by die hospitaal uit te kom toe die kraampyne ondraaglik geword het, en die baba op die straathoek gebore is.
Die ma en haar pasgebore babadogter is vir verdere mediese hulp na ‘n hospitaal vervoer.





