KWAZULU-NATAL. – Die Greenwood Park-polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord na ‘n vrou (74) en ‘n seun (13) Woensdag tydens ‘n insident in Simplace, Effingham dood aangetref is.
Kol. Robert Netshiunda het die insident van die sterfte en besering aan Nuusflits bevestig. Volgens Netshiunda is die bejaarde vrou en tienerseun dood in die huis aangetref.
“‘n 50-jarige vrou het beserings opgedoen en het steeds gelewe. Die seun het verskeie steekwonde opgedoen. Die beseerde vrou is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.”
‘n Ondersoek deur die polisie om die presiese omstandighede oor die aanval vas te stel, duur voort.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Vrou, vermoedelik in haar 70’s, en ‘n tienerseun het vanoggend tydens ‘n steek-insident noodlottige beserings opgedoen. Nog ‘n vrou, vermoedelik in haar 40’s, is ernstig beseer.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics het die toneel in Sim Place in Effingham, noord van Durban, as “grusaam” beskryf.
“Paramedici het op die toneel aangekom, waar SAPD en sekuriteitsbeamptes aanwesig was en is die huis gewys waar die voorval plaasgevind het.”
Jamieson sê paramedici het drie persone, vermoedelik familie van mekaar, met steekwonde aan hulle liggame aangetref.
“‘n Bejaarde vrou, vermoedelik in haar sewentigs, en ‘n tienerseun het noodlottige beserings opgedoen. Ongelukkig was daar niks wat paramedici vir hulle kon doen nie en hulle is op die toneel dood verklaar. ‘n Vrou wat vermoedelik in haar veertigs is, het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel gestabiliseer voordat sy onder polisiebewaking vir die verdere sorg wat sy nodig het, na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer is.”
Jamieson sê die omstandighede wat tot die insident gelei het, is onbekend, maar die polisie stel ondersoek in.





