Tweeling sterf in ongeluk

Lees ook :

Foto: André Truter, Saldanhabaai se uitvoerende burgemeester

WES-KAAP. – Alex en Zoë Arends (22) het Saterdagaand hulle lewens in ‘n motorongeluk in Saldanhabaai verloor.

Foto: West Coast Medical Rescue

Kapt. Frederick van Wyk sê aan Nuusflits die ongeluk het omstreeks 21:00 in Saldanhastraat (Saldanha Main Road) gebeur. Volgens voorlopige aanduidings het die voertuig van Vredenburg gekom en net verby die OK Mini Market gery toe die bestuurder beheer verloor het en ‘n chevronbord getref het. Die voertuig het regs geswenk en teen ‘n struktuur aan die regterkant van die pad gebots, waarna dit in die aankomende baan tot stilstand gekom het.

“Daar was vyf persone in die voertuig. Drie dames en twee mans. Twee dames is op die toneel dood en twee mans en een vrou is vir behandeling, deur ‘n ambulans, na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.”

Van Wyk bevestig Saldahabaai-polisie se ondersoek duur voort en arrestasies is nie gemaak nie. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen.

Enigiemand wat relevante inligting van die ongeluk het, word gevra om na vore te kom.

West Coast Medical Rescue het saam met Metro EMS en ander nooddienste op die ongeluk reageer.

“Met aankoms het medici die wrak van ‘n klein passasiersvoertuig gevind. Twee pasiënte wat ernstig beseer is, was steeds in die voertuig. Een pasiënt met ernstige beserings is buite die voertuig behandel. Al drie pasiënte is gestabiliseer en daarna vir verdere sorg na die hospitaal vervoer. Twee ander pasiënte is op die toneel geassesseer, maar weens die erns van hul beserings ongelukkig op die toneel dood verklaar. Ons meegevoel aan die families van die oorledenes in hierdie moeilike tyd.”

André Truter, die uitvoerende burgemeester van Saldanhabaai, het medelye met die familie, vriende en geliefdes van die tweeling uitgespreek.

“Woorde kan nie die pyn wat ons as ‘n gemeenskap voel om twee jong siele heeltemal te gou te verloor, ten volle vasvang nie. Ons hou diegene wat in die hospitaal herstel in ons gedagtes en ons stuur ons hoop vir hul genesing en krag in die dae wat voorlê. Terwyl ons nadink oor hierdie hartverskeurende gebeure, laat ons die kritieke belangrikheid van veilige bestuurspraktyke onthou. Spoed en versuim om aan padregulasies te voldoen, plaas lewens in gevaar, ons eie en dié van ander op die pad. Laat hierdie tragiese verliese dien as ‘n kragtige herinnering om versigtig te bestuur, spoedbeperkings te respekteer en veiligheid bo alles te prioritiseer,” het Truter gesê.

Foto: West Coast Medical Rescue

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief