GAUTENG. – Jannie Venter is Dinsdagmiddag by sy sakeperseel in Mountain View in die Hercules-polisiëringsarea in Pretoria doodgeskiet. Jan Vermaak, Venter se swaer, is tydens die insident gewond.
Kol. Mavela Masondo sê aan Nuusflits omstandighede van die skietinsident word ondersoek. Na bewering het ‘n verdagte (60) die winkel binnegegaan en op die eienaar en sy swaer geskiet. Die eienaar het gesterf en sy swaer is in ‘n ernstige toestand na ‘n hospitaal geneem. Die verdagte is gearresteer en vir moord en poging tot moord aangekla.
Xander Loubser van Best Care Emergency Medical Services sê die diens, wat in Mountain View gesetel is, het hulle omstreeks 14:45 na die toneel gehaas. Een persoon is dood verklaar, terwyl ‘n tweede in ‘n kritieke toestand aangetref is. Best Care-paramedici het saam met Netcare911 gewerk om die gewonde persoon te stabiliseer. Hy is daarna met ‘n Netcare911-helikopter na ‘n gespesialiseerde traumafasiliteit gevlieg.
Die verdagte was op die toneel en is deur Brinant Security in hegtenis geneem.
Medelye vir Venter, wat vandag sou verjaar en ‘n bekende in motorfietskringe en die Biker Church was, word wyd op sosiale media gedeel.
Trevor Venter sê: “Oom Jannie, rus sag, ons gaan oom baie miss. Dankie vir die goeie stiefpa wat oom vir my was.”
Ramone Malony sê: “Thank you very much for your support and swift reaction. Me and my family really appreciate it. Condolences to my uncle’s family. We are praying for my other uncle who was airlifted to hospital.”
Bianca Koch sê vanoggend: “Rus in vrede oom Jannie Venter. Vandag vier jy jou verjaarsdag saam met die engele.”





