WES-KAAP. – Konst. Siyabonga Morris Mbane (40) sal weer op 17 Desember vir ‘n formele borgaansoek in die Blue Downs-landdroshof voorkom. ‘n Vroulike aangehoudene het hom van verkragting by Mfuleni-polisiestasie beskuldig.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Mbane bly in aanhouding totdat sy saak weer voorkom.
Lizzy Suping en Phaladi Shuping van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), die polisie se waghond, sê in ‘n gesamentlike verklaring Mbane is by Mfuleni-polisiestasie gestasioneer. Hy het reeds op 2 Desember vir beweerde verkragting in die hof verskyn, waarna die saak tot 9 Desember vir ‘n formele borgaansoek uitgestel is.
Die slagoffer (26) wat vir beweringe van ontvoering en poging tot moord aangehou is, beweer sy is in die vroeë oggendure van 28 November in ‘n leë sel verkrag. Sy is daarna weer in haar sel saam met sewe ander vroue toegesluit.
Die slagoffer het die insident by die polisielede op die oggendskof aangemeld, waarna dit aan Opod gerapporteer en die polisiekonstabel gearresteer is.





