VRYSTAAT. – ‘n Bus met 35 passasiers en ‘n vragmotor was vanoggend omstreeks 04:20 op die N6 tussen Reddersburg en Smithfield in ‘n ongeluk betrokke.
Volgens die polisie is 10 persone op die toneel dood verklaar en die oorblywende passasiers is na hospitale in Smithfield en Bloemfontein vervoer.
Alle rolspelers is tans nog op die toneel teenwoordig. Nuusflits sal opdatering gee soos wat nuus beskikbaar raak.
Sipho Towa van die departement van gesondheid in die provinsie sê die ongeluk het ongeveer 15 km suid van Reddersburg, onderweg na Smithfield, gebeur. Die bus het met die vragmotor gebots. Rolspelers is omstreeks 03:50 na die toneel ontbied.
Die pad is gesluit en die verkeer word van Reddersburg op die R717 na Edenburg (27 km), van Edenburg N1 na Springfontein (69.5 km) en van daar na die R715 na Smithfield (103 km) en terug na die N6, herlei. Vanaf Smilthfield kan die R715 na Springfontein geneem word en dan die N1 na Bloemfontein (140 km)





