WES-KAAP. – ’n Vrou (26) van Paternoster het Dinsdag by Tietiesbaai naby die Kaap Columbine-natuurreservaat verdrink. Haar kêrel, ook 26, is in ’n ernstige toestand na ‘n hospitaal geneem.
Volgens Craig Lambinon van die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) is die St. Helenabaai- en Mykonos-stasies omstreeks 15:45 ontbied nadat aanvanklik vermoed is dat ’n boot omgeslaan het. Dit is later bevestig dat geen boot betrokke was nie, maar dat drie plaaslike inwoners van die kuslyn af visgevang het toe die voorval plaasgevind het. Die vrou het glo in die branders geval, waarna haar kêrel probeer het om haar te red. Die vriend het intussen hulp gaan soek. Paramedici het die man op die toneel behandel voordat hy per ambulans na ’n plaaslike hospitaal vervoer is.
’n Soektog ter land, see en uit die lug is van stapel gestuur, waartydens ’n privaat hommeltuig die vrou se liggaam in die water opgespoor het. Die NSRI se reddingsboot Rotary Onwards het haar uit die water gehaal, maar sy is op die toneel dood verklaar.
Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.





