KWAZULU-NATAL. – ‘n Polisiebeampte (47) is deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) op aanklagte van verkragting van ‘n tienermeisie en drie aanklagte van poging tot moord in hegtenis geneem.
Phaladi Shuping, Opod-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die voorval het op 20 September omstreeks 22:30 plaasgevind toe die beampte na bewering vier mans en ‘n vrou op straat genader het. Hy het glo ‘n skoot geskiet, die mans verjaag en daarna die 17-jarige meisie na ’n afgeleë gebied gedwing waar hy haar vermoedelik verkrag het.
Die vier mans het later op ’n polisiewa afgekom en die voorval aangemeld. Beamptes is na die toneel, waar daar glo ’n skietery uitgebreek het. Die beskuldigde beampte is in die been geskiet en vyf dae later in hegtenis geneem.
Die beskuldigde het reeds in die Pietermaritzburg-landdroshof voorgekom. Die saak is vir ‘n formele borgtogaansoek tot 15 Oktober uitgestel.





