WES-KAAP. – ‘n Man (23) is Donderdag in Bellville, waar hy in die straat gestap het, glo deur vier verdagtes oorval, met geweld in ‘n voertuig gedruk en ontvoer. Deur vinnige optrede van die polisie se nasionale intervensie-eenheid (NIU) is die man gered en drie verdagtes vir ontvoering en gewapende roof in hegtenis geneem.
Luidens ‘n verklaring deur lt.kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder, het lede van NIU die voertuig met verdagtes en die slagoffer opgemerk en agternagesit. Die verdagtes het later die voertuig gelos en probeer vlug, maar polisielede het daarin geslaag om drie van hulle vas te trek. Een verdagte het egter ontkom. Polisiebeamptes het die slagoffer se besittings teruggevind, asook ’n nagebootste vuurwapen wat glo tydens die misdaad gebruik is.
Die NIU is tans as deel van Operasie Lockdown III – ’n nasionale inisiatief wat fokus op die bekamping van dwelmhandel, afpersing en bendeverwante geweld, veral in die Kaapse Vlakte, in die Wes-Kaap – ontplooi.
Van Wyk het bevestig die ondersoeke duur voort om die vierde verdagte vas te trek.





