GAUTENG. – Vier gewapende verdagtes wat glo betrokke was by gewapende rooftogte van reisigers vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe, is vanoggend (Woensdag) tydens ‘n misdaadintelligensiegedrewe operasie in Yeoville doodgeskiet. ‘n Vyfde verdagte is beseer, maar is in hegtenis geneem en is onder polisiebewaking.
Brig. Brenda Muridili bevestig dat die operasie deur verskeie eenhede uitgevoer is, nadat inligting omstreeks 05:30 oor die betrokke verdagtes ontvang is. Volgens inligting het die verdagtes in ’n Suzuki Swift met valse nommerplate gery. Die polisie het probeer om die voertuig in Yeoville te onderskep, wat tot ’n hoëspoedjaagtog gelei het voordat ’n skietery tussen die verdagtes en wetstoepassers uitgebreek het. Drie onwettige vuurwapens en ammunisie is op die toneel gevind.
Die ondersoek in die saak van moord, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie duur voort. Die vuurwapens sal ballistiese toetsing ondergaan om te bepaal of dit moontlik in ander misdade gebruik is.





