KWAZULU-NATAL. – ’n Baba het Sondagmiddag tydens ’n ernstige ongeluk reg van voor op die M35 in Foweni, suid van Durban, gesterf. Terwyl reddingswerk aan die gang was, is ’n baba van vermoedelik minder as ’n maand oud in een van die voertuie gevind. Die baba het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê nooddienswerkers het kort ná die oproep vir hulp op die toneel aangekom en gevind dat twee swaar beskadigde voertuie die pad versper het. Albei bestuurders was vasgekeer in die wrakke, waarna die Ethekwini-brandweer met spesialistoerusting ingeroep is om hulle te bevry. Die twee bestuurders is gestabiliseer en na ‘n hospitaal vervoer.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie, en die polisie ondersoek die voorval.





