WES-KAAP. – Altesaam 19 kerkgangers is op Paassondag in 2023 in ‘n Khayelitsha-kerk beroof en seksueel aangerand. Op 19 Mei is getuinenis van ‘n beskuldigde in die Khayelitsha-streekhof aangehoor, waartydens die saak vir slot-argumente tot 17 Junie uitgestel is.
Volgens Action Society het Okehle Beya, die tweede beskuldigde, die getuiebank betree. Hy het verklaar dat hy vroegoggend op die dag van die voorval in sy mede-beskuldigde, Yamkea Jobo, se woning was. Hy het beweer dat Jobo kortliks die huis verlaat en by sy terugkeer verskeie selfone aan hom oorhandig het.
Beya het getuig dat hy die selfone onder sy kussing gebêre en later sommige daarvan teruggegee het aan mense wat by sy huis opgedaag het om hul gesteelde eiendom terug te eis.
Tydens kruisverhoor het die aanklaer verskeie aspekte van sy getuienis bevraagteken, onder meer sy verbintenis met die beskuldigdes, die selfone wat in sy besit gevind is en getuieverklarings wat hom tydens die roof in die kerk geplaas het. Verskeie kerkgangers het hom glo uitgewys en een getuie het verklaar dat hy Beya ken.
Die landdros het die beskuldigde ook ondervra oor waarom hy selfone wat nie aan hom behoort het nie aanvaar en gehou het en waarom hy dit teruggegee het as hy geen betrokkenheid by die roof gehad het nie. Beya het volgehou dat hy nie by die kerk teenwoordig was nie en gesê hy was besope.
FiND iT (Nuusflits) het voorheen berig dat altesaam 19 vrouens glo oor die betrokke Paasnaweek in 2023 in die Blessings Zion-kerk in Khayelitsha gedwing is om hul klere uit te trek en seksuele dade op twee mans uit te voer. Die slagoffers is na bewering met vuurwapens gedreig en gedwing om voor die ander lidmate, selfs voor familielede, die dade uit te voer.
Bron: Action Society, FiND iT





