Brekende Nuus
Afrikaans

Gewese kleuterskoolonderwyseres skuldig aan 4-jarige se verkragting en moord

Foto: Justice for Nada-Jane Challita
Foto: Justice for Nada-Jane Challita

GAUTENG. – Amber Lee Hughes (25) is Woensdag deur die Johannesburg-hooggeregshof aan moord met voorbedagte rade en die verkragting van Nada-Jane Challita skuldig bevind.

Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê Hughes het aanvanklik onskuldig gepleit, maar die staat kon hulle saak bo redelike twyfel bewys. Ná die staat en verdediging se sluitingsargumente het Hughes aanvullend erken sy het die kind versmoor ná ‘n emosionele dispuut met haar pa oor ontrouheid. Sy het haar grenspersoonlikheidsversteuring voorgehou, maar erken dat sy tydens haar aksies ten volle by haar bewussyn was. Sy het ook meervoudige mislukte selfdoodpogings beskryf.

Hughes het egter die verkragting ontken en gesê sy weet nie hoe die kind beserings aan haar geslagsdele opgedoen het nie. Die hof het bevind die staat kon nie anale penetrasie bewys nie, maar kon vaginale verkragting bewys. ‘n Patoloog het getuig die kind het vars wonde aan haar geslagsdele gehad, wat penetrasie met ‘n klein voorwerp, minute of ure voor haar dood, bewys.

Die hof het deskundige getuienis as geloofwaardig beskou en gegewe Hughes se erkenning dat sy ten tyde van die kind se dood alleen saam met haar was, bevind sy is verantwoordelik vir die beserings en het haar aan verkragting skuldig bevind.

Die saak is vir voorverhoorverrigtinge, insluitend om argumente ter versagting en ter verswaring aan te hoor, tot 27 Oktober uitgestel.