KWAZULU-NATAL. – ‘n Man het Saterdagmiddag by Palm Beach verdrink. Tydens nog ‘n insident het ‘n vrou in Margate verdrink, terwyl ‘n man wat saam met haar in die see in die moeilikheid was, steeds vermis is en gesoek word.
Die NSRI sê in ‘n verklaring Shelly Beach NSRI is omstreeks 15:30 van ‘n verdrinking in Palm Beach verwittig. Die persoon was volgens rapportering reeds uit die water en is dood verklaar. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen.
Shelly Beach se diensbemanning het omstreeks 16:00 reageer nadat aangemeld is ‘n man en ‘n vrou is in seestrome by Margate-pier vasgevang. Verskeie rolspelers is geaktiveer. ‘n Omstander is die water in en het die vrou tot op die strand gebring, waarna hy terug is in die see om die man te probeer red. Hy het egter as gevolg van die rowwe seetoestande met hooggety onverrigtersake uitgeswem. ‘n Lewensredder het daarna na die man, wat onder die water verdwyn het, gesoek.
Intussen het ‘n pa en seun van NSRI Port Edward ‘n lewensredder met KPR op die vrou bygestaan. Sy is egter dood verklaar. Die polisie het nog ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.