Brekende Nuus
Gesondheid

Beweerde afpersing by Germiston-lykshuis ondersoek

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Die Gautengse departement van gesondheid het ’n ondersoek van stapel gestuur ná bewerings van afpersing by die Germiston- forensiese patologiediensfasiliteit.

Steve Mabona, die departementele woordvoerder, sê die bewerings het na vore gekom in ’n sosialemediaplasing deur ’n lid van die publiek. Daar word beweer dat sommige amptenare geld eis om nadoodse ondersoeke te bespoedig. Die departement sê dit neem die bewerings ernstig op en ondersoek die klagtes. Die departement het intussen benadruk dat alle forensiese patologiedienste, insluitend DNS-ontledings, nadoodse ondersoeke en die berging van liggame, gratis gelewer word. Lede van die publiek wat beweer dat hulle die slagoffer van afpersing was, word versoek om dit by die fasiliteitsbestuurder of die departement se gehalteversekeringseenheid aan te meld.

Die departement het ook benadruk dat geen vorm van korrupsie geduld sal word nie en dat amptenare verwag word om hul pligte eties en met integriteit uit te voer.