VRYSTAAT. – Mpheng Anna Ntsoeu (30), ’n voormalige werknemer van ‘n dagsorgsentrum, is Donderdag tot drie keer lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Christo Theron (36), sy vrou Janine (35) en Janine se ma, Betsie Kruger (66) in Wilgehof, Bloemfontein.
Volgens kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, is Ntsoeu op 2 September deur die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein skuldig bevind aan drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en geldwassery. Die slagoffers is op 29 Junie 2024 omstreeks 08:50 dood by Kruger se woning in Van Heerdenstraat, Wilgehof, aangetref. Die saak is in Februarie 2024 as ’n onopgeloste saak aan kapt. Jacques Wilson oorhandig. Ná maande se ondersoek het ’n deurbraak in Augustus 2024 tot Ntsoeu en haar kêrel se inhegtenisneming gelei. Ntsoeu se medebeskuldigde, haar kêrel, is op alle aanklagte onskuldig bevind. Ntsoeu is drie lewenslange vonnisse vir moord opgelê, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en 10 jaar vir geldwassery. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.
Lt.genl. Thabang Lesia, provinsiale polisiekommissaris in die Vrystaat, het kapt. Wilson en die ondersoekspan vir hul volharding en toewyding geprys. Adv. Lucky Bontes het die vervolging gelei.