GAUTENG. – Die liggaam van ‘n sesde vrou is vanoggend (Dinsdag) langs die pad in Moshoeshoestraat, Kwa-Thema in Springs, aangetref. Die liggame van nog vyf vroue is onlangs in die Kempton Park- en omliggende gebied ontdek.
Volgens ‘n plasing van Live Traffic NPC is die liggaam langs die pad gevind. Nuusflits het polisiekommentaar oor die voorval gevra. Brig.Athlenda Mathe, die nasionale polisiewoordvoerder, was nog onderweg na die toneel en kon nie onmiddellik kommentaar lewer nie.
Die jongste ontdekking kom te midde van ’n ondersoek na vyf vroue wie se liggame die afgelope tyd in en rondom Kempton Park en Olifantsfontein gevind is. Vrae het ontstaan oor die moontlikheid dat die voorvalle met mekaar verband hou. Die polisie het egter gewaarsku dat nie sonder meer aanvaar moet word dat ’n reeksmoordenaar vir die sterftes verantwoordelik is nie. Die polisie het ’n gespesialiseerde span aangewys om te ondersoek of daar enige verband tussen die sake is.
Die jongste voorval in Kwa-Thema is nog nie deur die polisie as deel van dieselfde reeks moorde bevestig nie. Nuusflits wag op polisiekommentaar.
Bronne: SAPD, Live Traffic NPC, IOL, Daily Sun, Scrolla Africa