GAUTENG. – Fortunate Masilela (31) en Tsakane Msithani (38) het op aanklagte van moord, regsverydeling en die besit van ‘n gevaarlike vuurwapen in die Boksburg-landdroshof voorgekom. Die hofverskyning is in verband met die moord op Jabulile Ntimba in Dawn Park op 16 September.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê die beskuldigdes het die oorledene na bewering geken en was die aand van die voorval saam met haar. Ntimba is later dood aangetref, waarna ’n polisie-ondersoek van stapel gestuur is. Die ondersoek het tot die inhegtenisneming van die twee vroue en die beslaglegging op items gelei wat glo met die saak verband hou.
Die staat voer aan dat Ntimba in ’n verhouding was met Masilela se man, wat volgens die staat ook haar kêrel was. Die man is na bewering Msithani se broer. Volgens die Staat het die ontdekking van die verhouding tot die daaropvolgende moord gelei.
’n Derde verdagte wat aanvanklik in hegtenis geneem is, is weens onvoldoende bewyse nie in hierdie stadium op die hofrol geplaas nie. Die saak is vir ‘n formele borgtogaansoek tot 1 Oktober uitgestel, wat die staat sal teenstaan. Ondersoeke duur voort.