WES-KAAP. – Drie bemanningslede van African Marine Solutions (AMSOL) is Woensdag tydens veiligheidsbystandoperasies dood in ‘n insident sowat 80 seemyl van Mosselbaai se kus. Twee word steeds gesoek. Die AMSOL-sleepboot Umkhuseli was in die voorval betrokke.
Volgens Clare Gomes van Amsol sê Dan Ngakane, uitvoerende hoof, die drie liggame is tydens ‘n soek-en-reddingsoperasie gevind. Die maatskappy is in direkte kontak met die families van al vyf betrokke bemanningslede en bied ondersteuning en gereelde terugvoer soos bevestigde inligting beskikbaar word. Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) het ná die voorval volgens protokol ’n soek-en-reddingsoperasie per see en lug geaktiveer, met vaartuie in die omgewing, die NSRI en ’n helikopter wat betrokke was. AMSOL se sleepboot Inkanyezi is tans op die toneel terwyl die soektog na die twee vermiste seelui voortduur.
Interne en eksterne ondersoeke na die voorval is ook begin.