KWAZULU-NATAL. – Die polisie in KwaZulu-Natal het Vrydagaand verskeie skares in die strate van Durban probeer beheer terwyl betogings voortduur. Bykomende polisiebeamptes is uit ander dele van die provinsie ontplooi om wetstoepassing te versterk.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder in KZN, het gesê beamptes gebruik verskeie openbare-orde-bestuurstegnieke om die situasie te hanteer en terselfdertyd lewens en eiendom te beskerm. Hy het benadruk dat die polisie ’n balans moet handhaaf tussen mense se grondwetlike reg om te betoog en die toepassing van die wet. Waar situasies buite beheer raak, gebruik beamptes volgens hom die minimum wettige geweld, waaronder skokgranate, traangas en rubberkoeëls. Polisiebeamptes werk ook daaraan om persone van belang te identifiseer, waarna speurders bewyse sal insamel en inhegtenisnemings kan volg.
Firoz Cachalia, die waarnemende polisieminister, het Vrydag saam met Thami Ntuli, KwaZulu-Natalse premier, lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, provinsiale polisiekommissaris en nasionale projekleier vir georganiseerde misdaad, asook genl.maj. Phumelele Makoba, die waarnemende provinsiale kommissaris, die Durbanse middestad besoek om die situasie te beoordeel.