GAUTENG. – Die hooggeregshof in Pretoria het die verhoor van die voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, en vyf medebeskuldigdes, tot 9 November uitgestel. Die uitstel hou verband met die plaaslike regeringsverkiesing en gee aan van die beskuldigdes wat buite Gauteng woon die geleentheid om hul stem uit te bring.
Henry Mamothame, NVG IDAC-woordvoerder, sê Phahlane, lt.kol. Godfrey Mahwayi, genl.maj. Maanda Obert Nemutandzhela, genl.maj. Mankosana Agnes Makhele en die sakemanne Inbanathan Kistiah en Avendra Naidoo staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie, diefstal en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA). Die aanklagte hou verband met twee kontrakte met ’n gesamentlike waarde van ongeveer R54 miljoen.
Een van die kontrakte behels die beweerde onreëlmatige verkryging van RIPJAR-sagteware, wat bedoel was vir gebruik tydens die #FeesMustFall-studenteprotesaksies in Oktober 2015.
Die tweede kontrak hou verband met die beweerde onreëlmatige verkryging van Daedalus-kommunikasie-enkripsiesagteware. Volgens die aanklagte is die sagteware gebruik om oproepe te enkripteer en selfoonrekords en boodskappe uit te vee terwyl Phahlane deur die Onafhanklike Ondersoekdirektoraat van die Polisie (Opod) ondersoek is oor die sogenaamde blouligte-polisietender en ander beweerde onreëlmatige verkrygings tydens sy termyn as waarnemende nasionale polisiekommissaris.