ATLANTA, VSA. – Adriana Smith se familie het gesê die baba wat gebore is terwyl sy breindood was en aan die lewe gehou is vir die duur van die swangerskap, is steeds in die hospitaal.
Lees ook: Breindood vrou se baba deur keisersnee gebore
Adriana Smith was agt weke swanger toe sy in Februarie ’n beroerte gehad het en breindood verklaar is. Teen haar en haar familie se wense is sy as gevolg van Georgia se anti-aborsiewet lewend gehou sodat haar kind gebore kon word. Die kind, Chance, is in Junie deur ’n keisersnee gebore en Adriana Smith se lewensondersteunende masjiene is afgesit.
Haar ma, April Newkirk, het gesê Chance is steeds in die hospitaal en dat sy asemhaling ’n bekommernis is. Sy het gesê sy gewig is besig om toe te neem, maar dat hy nog nie sterk genoeg is om huis toe te gaan nie. Die familie hoop dat hy teen laat September of Oktober ontslaan sal word.
Newkirk veg om ontslae te raak van Georgia se aborsiewet. Sy het gesê: “Ek wil hê hulle moet weet dat hierdie nie hoef te gebeur het nie. Vrouens het regte; dis hulle lywe”.
Bronne: The Independent, 11Alive, Yahoo News





