GAUTENG. – Altesaam 23 busse is Dinsdagmiddag tydens ‘n brandvoorval in Industrialweg, Mabopane, in die noorde van Pretoria, beskadig. Sommige busse is gedeeltelik beskadig, terwyl ander heeltemal uitgebrand het.
Lindsay Zwelithini Mnguni, vir die Stad Tshwane se nooddiensdepartement, sê dié diens se kommunikasiesentrum het omstreeks 12:15 die aanmelding van ‘n grasbrand ontvang. ‘n Brandweerwa is vanaf Mabopane-brandweerstasie na die toneel gestuur. Met aankoms op die toneel is ‘n grasbrand bevestig en dat twee van die talle privaat busse wat op die oop erf van die busdepot geparkeer was, ook aan die brand was. Omdat die vlamme vinnig versprei het en die busse dig teen mekaar geparkeer was, is versterkings van die Rosslyn- en Wonderboom-brandweerstasies ingeroep. Die vlaag vlamme is verder deur winderige toestande in die gebied vererger.
Ten spyte hiervan kon brandbestryders deur hul vinnige en doeltreffende optrede daarin slaag om 14 busse te red en die brand te blus voordat dit verder versprei het. Geen beserings is aangemeld nie.
Die oorsaak van die brand is tans onbekend en sal deur die betrokke owerhede ondersoek word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





