Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, sê in ‘n sosialemediaplasing sy hart is seer vir Afrikaners wat die land verlaat om as vlugtelinge in die VSA heenkome te soek.
Hermann, wat na die Suid-Afrikaners se vertrek op televisie gekyk het, sê hy het self die verlies gevoel, waarvoor hy begrip het. Hy sê voorts dit is ‘n verlies vir die land, maar is woedend vir die ANC wat hierdie landsverlaters soos tweedeklasburgers in hul eie land laat voel.
Hermann sê terwyl nog Suid-Afrikaners die land waarskynlik sal verlaat, hy een van die 99% is wat in die land gaan bly.
Lees die volledige plasing hier onder:
Ek kyk op TV na sowat 50 Afrikaners op die lughawe. Hulle gaan waarskynlik vanaand nog op die vliegtuig klim as vlugtelinge na die VSA.
My hart is seer, want elke Afrikaner wat die land verlaat, is ‘n groot verlies. Ek kon nie anders as om self verlies te voel toe ek gesinne en klein kinders in die ry op die lughawe sien, op pad uit hul moederland nie.
Hulle het gekies om hul land te verlaat, beslis nie omdat hulle dit graag wou doen nie, maar omdat hulle hier uitgestoot is. Ek het baie begrip vir hul gevoel. Ek gun elkeen om hul eie besluit te neem. Hulle bly Afrikaners en moet ons saak steeds daar vir ons help stel.
Dit is ’n verlies vir ons gemeenskap en ons land. Ek is nie kwaad vir hulle nie, maar ek is woedend oor die ANC se beleidsrigtings wat Afrikaners soos tweedeklasburgers in hul eie land laat voel.
Rasvervolging, plaasaanvalle, onsekerheid oor eiendomsreg, aanvalle op skole en ‘n onsekere toekoms is harde realiteite.
Daar gaan waarskynlik nog Afrikaners vertrek, maar selfs die grootste getal wat voorsien word, sal minder as 1% van Afrikaners wees. 99% gaan nie VSA toe gaan nie.
Ek is een van daardie 99%. Ek bly hier. En die ANC moet dit ook van my hoor:
“Ek gaan nêrens heen nie. Ek gaan hier bly, maar nie stilbly nie. My hart is hier aan die suidpunt van Afrika. Omdat ek besluit het om te bly, het ek, saam ander blyers, geen ander keuse as om te veg en te bou aan ’n toekoms vir my, my kinders en hulle kinders nie. Ek sal my vingers stomp werk om te help dat my mense nie hoef te vlug nie. Dus jammer, ANC, ons gaan nie julle beleid en aksies aanvaar wat teen ons is en sleg is vir die land nie. Julle is nie van ons ontslae nie, inteendeel…”
Ons is ’n veerkragtige volk, en ons antwoord vir die toekoms gaan nog die verbeelding aangryp.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





