MPUMALANGA. – 494 verdagtes is Vrydag tydens ’n operasie by ’n myn in Barberton na die oppervlak gebring. Die verdagtes word onder meer deur aanklagte van oortreding van die immigrasiewet, betreding van privaat eiendom en die besit van gouddraende materiaal in die gesig gestaar. Aanvanklik is gesê bykans 1 000 verdagtes is na die oppervlak gebring.
Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die spesifieke syfers oor hoeveel verdagtes op watter aanklagte verskyn, sal nog gefinaliseer word. Beamptes van die polisie en die departement van binnelandse sake werk onverpoos om die verdagtes vir ‘n hofverskyning vandag in die Barberton-landdroshof voor te berei.
Volgens brig. Donald Mdhluli sal verdere verwikkelinge bekendgemaak word soos meer besonderhede beskikbaar raak.
Mdhluli het Vrydag in ‘n verklaring gesê ongeveer 1 000 of selfs meer onwettige immigrante is tydens Operasie Vala Umgodi in samewerking van verskeie eenhede uitgevoer, wat tot die inhegtenisnemings gelei het. Hy het voorts gesê sommige van die verdagtes is minderjarig.






