GAUTENG. – Vusimuzi “Cat” Matlala, die omstrede sakeman wat saam met medebeskuldigdes op aanklagte van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, bedrog en regsverydeling in die Alexandra-landdroshof verskyn het, se saak is tot 26 Augustus uitgestel. Die uitstel is om voorsiening te maak vir die samesmelting van twee saakdossiere vanaf Pretoria en die oordrag van die saak na die Johannesburgse hooggeregshof.
Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Matlala het saam met Sakani Matlala, sy lewensmaat, Musa Kekana en Tiego Floyd Mabusela, sy medebeskuldigdes, in die hof verskyn. Die klagte spruit uit die beweerde sameswering deur die beskuldigdes tussen 12 en 17 Oktober 2023 in Johannesburg om Tebogo Thobejane te vermoor.
Daar word beweer dat daar op Thobejane en twee ander klaers geskiet is. Die staat beweer ook verder dat meer as R120 000, wat aan die komplot gekoppel is, deur die beskuldigdes gewas is en dat ’n vervalste faktuur ingedien is om die oorsprong van die geld te verdoesel en die hof te mislei. Die verdediging het ’n aansoek gebring vir die bekendmaking van sekere gedeeltes van die saakdossier, maar die landdros het die aansoek van die hand gewys.
Matlala en twee van sy medebeskuldigdes bly in aanhouding by Kgosi Mampuru-maksimum-sekuriteitfasiliteit, terwyl Sakani Matlala op borgtog vrygelaat is.
Die omstrede sakeman se naam is Sondag deur lt.kol. Nhlanhla Mkhwanazi genoem in die ontbloting van ‘n beweerde nasionale sindikaat wat volgens hom politici, regslui, wetstoepassers en sakemanne insluit, met beweerde koppeling aan Senzo Mchunu, die polisieminister.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





