GAUTENG. – Die Demokratiese Alliansie (DA) in Gauteng het die provinsiale onderwysdepartement skerp gekritiseer oor die dissiplinêre optrede teen mev. Philippa Erasmus, die skoolhoof van Pretoria High School for Girls. Die skoolhoof is skuldig bevind in wat die DA ’n “ligsinnige klag” noem omdat haar man, sonder vergoeding, met landskapwerk by die skool gehelp het.
Sergio Isa Dos Santos, DA-skadu-LPW vir onderwys in Gauteng, sê in ‘n verklaring hierdie besluit is onregverdig en belemmer dit progressiewe onderrig en leer by die skool. “Ons doen weereens ’n beroep op Matome Chiloane, die LUR vir onderwys in Gauteng, om hierdie beslissing terug te trek en die voortgesette teistering van hierdie toegewyde skoolhoof te staak.”
Mev. Erasmus is aanvanklik op bewerings van rassisme ondersoek, maar sy is daarvan vrygespreek. Volgens Dos Santos het die departement egter geweier om hierdie uitkoms te aanvaar en het hulle regspan, Mdladlamba Attorneys, buite die oorspronklike opdrag gegaan in ’n poging om haar op enige manier skuldig te bevind. “Om ’n skoolhoof skuldig te bevind omdat haar man die skool gratis gehelp het, is nie net absurd nie, maar wys op ’n departement wat meer besorg is oor beeld as geregtigheid of opvoedkundige uitkomste.”
Hy voer aan dat die departement se hantering van dissiplinêre aangeleenthede al hoe meer onbestendig en inkonsekwent word, en dat dit dikwels voorkom asof besluite deur politieke agendas beïnvloed word. “Dit is verbysterend hoekom die departement stadig reageer op ernstige klagtes wat leerders se veiligheid raak, maar buitengewoon vinnig en met wraaksug in hierdie geval optree.”
Die DA sê voorts ’n DA-geleide provinsiale regering sal toesien dat dissiplinêre prosesse regverdig, deursigtig en in belang van onderwys verloop, nie as middel tot magsmisbruik aangewend word nie.
Nuusflits het kommentaar van die Gauteng Departement van Onderwys oor die voorval gevra.





