WES-KAAP. – Die Demokratiese Alliansie (DA) het Donderdag ’n klag van bedrog teen Senzo Mchunu, die polisieminister, by die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor aanhangig gemaak oor beweerde leuens aan die parlement oor sy verhouding met die sakeman Brown Mogotsi.
Volgens Baxolile ‘Bax’ Nodada, raadslid van die DA, het Mchunu in Maart vanjaar, terwyl hy onder eed voor die parlement se portefeuljekomitee vir polisie verskyn het, ontken dat hy Mogotsi ken. In ’n verklaring op 9 Julie het hy egter erken dat hy hom wél ken en hom as “’n kameraad” beskryf. Die DA sê hierdie teenstrydige verklarings dui daarop dat die minister moontlik doelbewus die parlement mislei het, wat dit ingevolge die wet op die bevoegdhede, voorregte en immuniteit van die parlement en provinsiale wetgewers ’n misdryf maak.
Benewens die strafregtelike klag, het die DA ook aangekondig dat ’n formele klag by die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en lede se belange ingedien sal word.
“’n Minister wat vals verklarings maak, die waarheid verdraai en verbind word met individue wat glo aan misdaadsindikate gekoppel is, moet verantwoording doen. President Cyril Ramaphosa se voortgesette stilte oor hierdie en ander bewerings teen kabinetslede ondermyn die integriteit van die regering.”
Die DA dring aan op aanspreeklikheid en ’n ondersoek na die minister se optrede.
Lees meer hier.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





