GAUTENG. – Die DA in Gauteng het Woensdag 25 November gevra dat ’n interministeriële taakspan dringend aangestel word om die agterstand met die keuring van skoolpersoneel in te haal. Die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys het op 17 November bekend gemaak dat sowat 87% van onderwysers en ander skoolpersoneel wat landwyd direk met leerlinge werk, nog nie die vereiste keuring ondergaan het nie.
Michael Waters, die DA se Gautengse woordvoerder oor onderwys, sê die departemente van basiese onderwys, justisie en maatskaplike ontwikkeling moet saam met die polisie die agterstand aanpak. Die DA vra vir ’n gratis, sentrale digitale stelsel wat die Nasionale Kinderbeskermingsregister, die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders en die polisie se strafrekordkontroles met mekaar verbind.
Volgens Waters het die Gautengse onderwysdepartement in ’n antwoord in 2025 aangedui dat 12 onderwysers met rekords van seksuele oortredings by laer- en spesiale skole werksaam was. Hy sê die departement het ook aangedui dat dit 3 400 leerling-vervoerbestuurders nog nie teen die Kinderbeskermingsregister gekontroleer het nie.
Die DA vra dat Lebogang Maile, Gautengse LUR vir onderwys, bekend maak hoe ver die keuring van onderwysers, ondersteuningspersoneel en leerling-vervoerbestuurders gevorder het en watter stappe teen ongeskikte persone gedoen is.
Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het die parlementêre komitee gewaarsku dat die huidige tempo van keuring die sperdatum van 31 Maart 2027 in gevaar stel. Teen dié datum moet skoolwerknemers se besonderhede teen die Nasionale Kinderbeskermingsregister nagegaan wees.