MPUMALANGA. – Drie oorledenes – twee liggame en die oorskot van ’n manlike persoon – is Dinsdag, deur die polisie se duikeenheid en die K9-soek-en-reddingseenheid van Lydenburg in twee afsonderlike voorvalle in die Pelgrimsrus- en Sabie-polisiëringsgebiede gekry.
Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê in n verklaring ‘n paartjie wat op 23 Augustus vermis geraak het se liggame is Maandagaand in ‘n rooi sedan op die Longtompas-pad (Sabie/Lydenburg) in die Sabie-omgewing gevind.
Intussen is die oorskot van ’n manlike persoon Maandag deur lede van die gemeenskap in die Pelgrimsrust-omgewing, sowat 40 kilometer van die plek waar die paartjie gevind is, ontdek. Die oorskot is tussen die agterkant van ’n Toyota-dubbelkajuitbakkie en ’n boom in die Morgensonpas (tussen Lydenburg en Pelrimsrus) gevind.
Geen van die drie oorledenes is nog deur hul families uitgeken nie. Die manlike oorskot is in ’n gevorderde stadium van ontbinding, terwyl die paartjie moontlik makliker geïdentifiseer kan word. Forensiese toetse, insluitend ’n nadoodse ondersoek en DNS-toetse, sal gedoen word. Daar word vermoed dat die oorskot van die man dié van ’n 72-jarige kan wees wat in Maart 2025 in Pelgrimsrus as vermis aangemeld is.





