BLOEMFONTEIN, SUID-AFRIKA. – Drie verdagtes is Vrydag om 20:45 by die Verkeerdevlei-tolhek naby Bloemfontein vir die besit van khatplante in hegtenis geneem.
Bloemfontein se vliegeenheid het inligting ontvang van ’n vragmotor wat op die N1 vanaf Gauteng na Bloemfontein reis wat moontlik dwelmmiddels vervoer.
Die vragmotor is by die Verkeerdevlei-tolhek afgetrek. Die bestuurder (59) en twee passasiers is in hegtenis geneem nadat 14 bokse vol khatplante in die kajuit ontdek is. Volgens sers. Mahlomola Kareli is die geskatte waarde van die plante R2,4 m.
’n Kleuter (4) wat saam met hulle in die vragmotor was, is na ’n plek van veiligheid geneem. Die drie verdagtes verskyn binnekort in die hof op aanklag van die besit van dwelmmiddels.
Bron: SAPD





