MPUMALANGA. – Die nasionale vervolgingsgesag sê die dringende hofinterdik wat deur beskuldigdes in die Sibanyoni-“afpersing”saak ingestel is, is onttrek, wat die aansoekproses in dié stadium tot ’n einde bring.
Kaizer Kganyago, NVG-woordvoerder, sê die beskuldigdes het die hofinterdik gebring nadat die saak op 18 Mei in die Kwaggafontein-landdroshof van die rol geskrap is en daarna weer vir verhoor op die rol geplaas is. ‘n Dringende aansoek is op 27 Mei gebring om die uitvoering van ’n J50-arrestasielasbrief te keer wat teen al die beskuldigdes in die saak van Madoda Johannes Sibanyoni en ander uitgereik is. Die saak sou op 28 Mei in die Delmas-landdroshof aangehoor word.
Die NVG se kantoor in Mpumalanga het Vrydag kennis ontvang van die onttrekking van die aansoek wat deur die regsverteenwoordigers van Sibanyoni en Sindane ingedien is. Die NVG sê dat die onttrekking van die aansoek beteken dat die dispuut oor die herinskrywing van die saak en die uitvoering van die arrestasielasbrief nou voorlopig afgehandel is.
Intussen is bevestig dat die Landdroskommissie ’n ondersoek instel ná ’n formele klagte wat deur die direkteur van openbare vervolgings teen hooflanddros Tonjeni ingedien is. Die NVG wag ook nog op skriftelike redes van die hof en op ’n datum vir die aansoek om verlof tot appèl.
Die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Andy Mothibi, het die NVG se standpunt herbevestig dat alle wettige kanale gebruik sal word om die regstaat te beskerm en te verseker dat persone wat van misdaad beskuldig word, aanspreeklik gehou word.
Nuusflits het voorheen berig dat die aanklaer in die saak met die borgtogaansoek van Madoda Johannes Sibanyoni en ander, waar die beskuldigdes op klagtes van afpersing en geldwassery tereg staan, nie opgedaag het nie en die saak is van die hofrol geskrap. Adv. Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder oor justisie en grondwetlike ontwikkeling, het gesê taxibaas Joe “Ferrari” Sibanyoni kon die hof verlaat sonder dat sy borgtogsaak afgehandel is. Die nasionale vervolgingsgesag het op sy beurt ’n formele klag teen hooflanddros Tuletu Tonjeni by die Landdroshofkommissie ingedien ná haar hantering van die saak.





