GAUTENG. – Een persoon is dood en twee is beseer nadat e-hailing-voertuie Donderdagaand deur onbekende verdagtes by Maponya Mall aan die brand gesteek is.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê volgens beskikbare inligting is die bestuurder van ’n e-hailing-voertuig ((dit is bv. Bolt, Uber ens.) by die ingang van die sentrum deur vier mans geskiet. Die voertuig is daarna aan die brand besteek. Nog ‘n voertuig in die nabyheid het ook onder skoot gekom. Die bestuurder van dié voertuig het daarin geslaag om weg te kom, maar sy voertuig is ook aan die brand gesteek.
Nevhuhlwi sê daar is later vasgestel dat die bestuurder en ’n verbyganger skietwonde opgedoen en na ‘n hospitaal geneem is. ’n Saak van moord, twee aanklagte van poging tot moord en brandstigting is geopen. Die SAPD en JMPD is op die toneel om die situasie te monitor wat vermoedelik taxiverwant is.
Kedibone Diale-Tlabela, provinsiale LUR vir paaie en vervoer, het die Maponya Mall besoek, volgens ‘n verklaring wat vanoggend uitgereik is. Volgens die departement is die besoek deel van die LUR se voortgesette pogings om spanning in die openbarevervoersektor aan te spreek, direk met betrokke belanghebbendes te skakel en die situasie op grondvlak te beoordeel.
Die MK-party het in ‘n vrygestelde verklaring die onmenslike behandeling, intimidasie, teistering en die dood van die e-hailing-bestuurder ten sterkste veroordeel. Volgens die party is dit toenemend algemeen dat taxibestuurders e-hailing-diensverskaffers en hul passasiers boelie en passasiers uit voertuie dwing om hulle in taxi’s te kry. Daar is ook berigte van bejaarde passasiers wat fisies uit e-hailing-voertuie gehaal word en na taxi’s verwys word wat nie dieselfde gerief, veiligheid of deur-tot-deur-diens bied nie.
Die MK-party het gesê dat selfs privaat saamrydienste en motoriste wat familielede of bure vervoer, geteiken word. Bestuurders word geïntimideer en daarvan beskuldig dat hulle besigheid van taxi-operateurs “steel”, terwyl taxi’s dikwels vol passasiers is. Die party beklemtoon dat daar genoeg ruimte in die vervoersektor is vir alle diensverskaffers om volhoubaar te wees en dat geweld, intimidasie en selfs moord om die bedryf te domineer, gierigheid weerspieël en die gees van ubuntu ondermyn.
Maponya Mall het die volgende op sosiale media geplaas: “Maponya Mall would like to convey our condolences to the loved ones of the person that lost their life in this senseless act of criminality. We condemn the acts of these criminals and will continue to work with the authorities, community and other stakeholders to investigate this case and ensure that justice is served.
We are actively working to secure the safety of all who visit our premises. We call on members of the community to remain vigilant, calm and report any suspicious or unlawful activity, and cooperate fully with authorities always.”


