Skokonthulling
*Ronelle Smit (33) wou heel onskuldig verlowingsfoto’s van haar en *Marno Pienaar van sy foon na haar foon toe stuur toe daar ‘n boodskap van Marno se broer af kom: “Onthou om die dwelms vir my te bring.”
Yskoud maar woedend en verward het ‘n baie seergemaakte Ronelle nie geweet wat om te doen nie.
“Ek het hom onmiddellik gekonfronteer en hy het erken hy gebruik dwelms. Hy het in trane uitgebars en my gesmeek om hom te help. Hy het gesê hy sal nooit weer daaraan raak nie. Ongelukkig is dwelmverslaafdes baie goeie manipuleerders.” Die paartjie was in dié stadium ‘n jaar in ‘n verhouding.
Rochelle vertel dat sy nooit enige gevaartekens of simptome gesien het dat Marno dwelms gebruik nie. “As jy nie weet waarvoor om te kyk nie, sal jy dit nie sommer agterkom nie. Ek het nooit gedink ek sal myself in daardie omstandighede bevind nie. Vandag is ek wel bewus van al die simptome en gevaartekens soos gedragsverandering, maniere hoe hulle dit wegsteek en selfs om by die werk verby enige dwelmtoets te kom.”
Swanger en dwelms
‘n Rukkie na die groot dwelmskok het Ronelle uitgevind sy is swanger. “Ek was so kwaad, ek wou nie eers gehad het dat hy sy voete in die huis moes sit nie, maar ek het gedink dat ek hom eerder moet help as moet wegstoot.”
Marno het Ronelle herhaalde kere oortuig dat hy sal ophou. “Meer kere as wat ek op my hande kan tel,” vertel sy moedeloos.
Ronelle het gaan hulp soek by Marno se ouers, net om met ‘n skok te besef hulle weet van alles. Marno het voorheen in Pretoria gebly en het reeds dwelms daar gebruik. Sy ouers kon egter nie finansieel bydra om Marno na ‘n rehabilitasiesentrum toe te stuur nie.
Ronelle het met ’n plaaslike apteker gaan gesels en dié het haar na ‘n persoon verwys wat ook voorheen ‘n dwelmverslaafde was. “Sy het lank en reguit met Marno gepraat en die skade wat hy aan homself en die res van sy geliefdes doen, verduidelik.”
Die vrou het ook aan Ronelle verduidelik wat Marno se moontlike triggers is om weer terug te val in sy verslawing. “Ek het daarvan ontslae geraak.”
Marno was ook by ‘n berader en dokter vir hulp, maar dit het nooit lank gehou nie.
Marno het gereeld kontant uit Ronelle se handsak gesteel, of haar goed by ‘n pandjieswinkel verkoop. “Die pandjieswinkel het my later gebel en gesê ek moet my goed kom haal, wat ek natuurlik moes teruggekoop het.”
Marno was ‘n meester met stories opmaak en het altyd een of ander rede gehad hoekom hy geld nodig gehad het. “Hy het gesê die werk wil hom vir opleiding stuur, maar hy moet die helfte betaal.”
“Ek kon nie meer nie.”
“Ek het soveel keer probeer en soveel keer geglo hy sou verander.”
Ronelle het egter in 2018 tot die besef gekom dat Marno nie gaan verander nie. “Ek het regtig baie gebid oor die situasie. Ek het eendag opgestaan en besef ek sal nooit eendag my kind kan leer wat is reg en verkeerd as ek toelaat dat sy pa onder ons dak aanhou dwelms gebruik nie.”
Teen dié tyd was Ronelle en Marno drie jaar saam.
‘n Dwelmverslaafde as ‘n pa
Marno het in dié stadium nie regtig kontak met sy kind nie.
“Die mens wat dwelms gebruik, is selfsugtig, selfgesentreerd en meestal ook ‘n narsis. Hulle besef nie as hulle ongeskik of geïrriteerd met hulle kinders is nie. Vir hulle gaan dit net oor die volgende fix. Ongelukkig het ons kind al op ‘n baie jong ouderdom die lelik in die lewe gesien.
Ronelle sê dat sy aan die begin regtig probeer het dat hul kind ‘n verhouding met Marno moes hê. Sy het selfs sover gegaan en gesê dat hulle ooreen moet kom sodat hy hom nog gereeld kan sien “want dit bly sy pa.”
“Ek het onlangs moed opgegee, want ek kan hom nie in hierdie stadium dwing om deel te wees van sy kind se lewe nie. Ons praat egter steeds nooit sleg van sy pa nie. Ek het van die begin af besluit hy kan eendag sy eie opinie oor sy pa vorm.”
Daaglikse lewe met ’n verslaafde
“Dit is die grootste nagmerrie waarin jy jou kan bevind. Alle moontlike triggers moet altyd verwyder word uit die huis. Soos as ‘n gloeilamp blaas, moet dit onmiddellik verwyder word, anders word dit gebruik om te rook. Ons kon nooit koeldrank uit strooitjies drink nie, want dit word ook vir dwelms gebruik.”
“Ek kon Marno nooit net gou winkel toe stuur nie, want hy sou nie net winkel toe gaan nie. Hy sou eers vier tot vyf ure later weer opdaag. Ek het al die hospitale, polisie, verkeersafdeling ens. om 02:00 gebel, want dan sou hy net gou gaan McDonald’s koop en nie weer opdaag nie.”
Ronelle vertel dat dae soos verjaarsdae en Kersfees niks vir die dwelmafhanklike beteken nie, omdat hy veel eerder geld sal spandeer aan dwelms. “My kind was ses weke oud toe moes ek weer begin werk, want finansieel kon ek glad nie op hom staatmaak nie. Die baba het koliek gehad, maar Marno het nie wakker geword van sy urelange gehuil nie. “Ek het later besef dis omdat hy hoog was.”
Volgens Ronelle het Marno altyd gemaak asof hulle die rede is dat hy dwelms gebruik.” As ek net minder dit doen, of meer dat doen, sal hy ophou.”
“Jy besef jy sal net nooit genoeg wees vir so persoon nie, maak nie saak hoeveel jy opgee of van jouself verander nie,” vertel sy.
Van alles het dit Ronelle die seerste gemaak toe een van Marno se familielede haar eendag gevra het hoekom het sy swanger geraak met sy kind. “Volgens hom het ek geweet Marno gebruik dwelms. Ek kan vandag met alle eerlikheid sê ek het nie geweet nie en sou nooit ‘n kind in so ‘n situasie gekry het nie.”
“Ek is nou vry”
Ronelle is nou ‘n enkelouer van ‘n ongelooflike besige seuntjie. “Dit is baie werk en finansieel kry ek ook geen hulp nie, maar die Here maak nie foute nie en sorg. Hy is baie goed vir ons. Ek is vir die eerste keer in jare gelukkig!”
Ronelle vertel dat die stres om te wonder waarmee Marno weer vandag by die huis gaan kom, verby is. “Gaan hy huis toe kom of gaan hy eers dwelms koop? Gaan hy vandag tyd of lus hê om aandag aan ons te gee? Dit is nou net nie meer my probleem nie!”
Ronelle sê:
“Dwelmverslaafdes as vriende is gewoonlik vriendelik, spontaan en baie pret, maar om saam met hulle te bly, is totaal verskillend.
“Dit is ’n baie alleen, donker wêreld. Min mense praat daaroor omdat hulle net te skaam is om te erken hulle man/vrou kind of geliefde het ’n probleem. Mense besef nie hoe erg is dwelmverslawing in Kimberley nie. Dit is ongelukkig ‘n selfsugtige daad wat net vat en nooit iets teruggee nie. Dit laat verwoesting en baie hartseer agter. Dit is ook ongelooflik duur om so ‘n persoon in rehab te sit en in baie van die sentrums kom hulle uit en gebruik dan nog erger dwelms as voorheen.”
*Skuilname is gebruik om die identiteit van die ma en die kind te beskerm.