‘Ek moet seker wees’ sê ma wat in remissie is nadat seun (5) sterf

Lees ook :

Foto: Verskaf

GAUTENG. – Marinet Janse van Rensburg het op 13 Augustus, op die verjaardag van Marlo (5), haar oorlede seun wat kanker gehad het, die klok vir hom by die onkologie-afdeling gelui.

Die lui van die klok op 27 Junie by Steve Biko Akademiese Hospitaal, waar hulle altwee behandeling ontvang het, vier Marinet se remissie van borskanker. Maar sy wou die spesiale oomblik ook vir haar seun, wat op 2 April die oggend om 04:00 sy stryd teen kanker verloor het, hê. Met sy verjaardag het Marinet vir die hospitaalpersoneel wat Marlo se lewe aangeraak het kolwyntjies geneem, waarna sy die klok vir haar seun gelui en ook ‘n blaartjie aan ‘n boom vir hom aangebring het.

Die gesin het buiten die lui van die klok ook Marlo se verjaardag by Spur, sy gunstelingrestaurant, gevier. Terwyl die kelners vir Marlo se foto sing, kan die emosie op Marinet se gesig gesien word.

Die moedige mamma en haar jongste spruit was kort na mekaar met kanker gediagnoseer en het gelyktydig behandeling ontvang. Marinet sê sy het nooit verwag Marlo sou sterf toe dit gebeur het nie. “Ek is emosioneel en ek mis Marlo verskriklik baie.”

“Marlo se dood was vir my baie traumaties, maar ek het geweet dit gaan een of ander tyd gebeur, net nie toe nie. Ek het nooit die tekens gesien dat dit naby die einde is nie. Daar was net die teken van baie van alles. Hy was die laaste twee weke baie rustig en kon nie meer baie met ons gesels nie. Hy is soos ‘n engeltjie vir ons gegee om net nader aan die Here te kom. Marlo se as is by my ma se graf gestrooi. Sy het ook aan borskanker gesterf en op die dag was daar ‘n spierwit vlinder wat ons verras het.”

Marinet vertel hoe Marlo se laaste swaarkry in haar bed, voordat hy die laaste keer hospitaal toe is waar hy gesterf het, steeds voor haar geestesoog afspeel. Sy vertel hoe die klein seuntjie nie een van iets wou hê nie, maar sommer byvoorbeeld twee of drie melkskommels, of waarvoor hy ookal lus was. En dink sy nou daaraan, was dit ‘n teken van Marlo wat op ‘n manier geweet het daar word gegroet. “So asof ek gaan dit nie weer kry nie, dus moet ek nou baie daarvan kry.”

Marinet het in Julie 2023 ‘n dubbele mastektomie gehad en het eers Oktober met behandeling begin en daarom glo sy die skandering is absoluut noodsaaklik.

Marinet sê aan Nuusflits sy was veronderstel om nog behandeling te kry, maar dit is net gestaak. Skanderings is wel na haar diagnose gedoen, maar nou is ‘n skandering glo nie nodig nie. “Ek moes 12 Herceptin-drups kry, waarvan ek slegs ses maande se voorraad gekry het. Ek vermoed dis as gevolg van ‘n tekort aan fondse van die staat.”

Op ‘n vraag oor ‘n skandering het sy die antwoord gekry dat indien sy nie newe-effekte ondervind nie, sy in remissie gesien word.

“Ek het reeds newe-effekte en ek is bekommerd, maar dit word aan die Tamoxifen wat ek elke dag moet drink, toegeskryf. Met Marlo het ek selfs die dokter se selfoonnommer en toegang tot dadelike opname gehad indien nodig. Vir myself is behandeling nie dieselfde as vir hom nie.”

“My tipe kanker is volgens die bestralingsdokter uiters aggressief en hoe moet ek weet of dit nie versprei het nie? Ek moet seker wees.”

Ten spyte van haar jong seun se kankerdood moes Marinet met haar behandeling vir borskanker voortgaan. Sy is emosioneel en voel sy het meer as genoeg rede om die skandering vir gemoedsrus te kry. Sy het nog ander kinders saam met wie sy met oorgawe wil lewe sonder om te wonder of die kanker steeds in haar liggaam is.

Sy voel tans nie lekker nie. Sy ondervind steekpyne in haar kop en sukkel om asem te haal, het koors en bly moeg. Intussen bly sy hoop om nuus oor ‘n skandering te ontvang sodat sy net elke dag voluit en met dankbaarheid kan leef.

Marlo Goosen (5) het die harte van Suid-Afrikaners aangegryp met sy stryd teen kanker.

Lees die berig oor Marlo soos in Junie 2023 berig hier onder:

Marlo Goosen (4), wat in Augustus vyf word, het reeds in Desember 2022 tandpyn begin ervaar.

Mamma Marinet Janse van Rensburg, ‘n enkelmamma, vertel hoopvol, maar emosioneel hoe die moedige kleuter reeds oor die afgelope maande pyn moes verduur totdat hy met ‘n gewas en eindelik met kanker gediagnoseer is.

“Dit is beslis kanker en toetse word gedoen om vas te stel of dit versprei het of nie. In hierdie stadium is die goeie nuus dat dit dalk net stage 1 of 2 kan wees.”

Marlo het reeds sedert Desember van tandpyn gekla en het medikasie gekry wat die pyn verdoof het en dan was dit weg, maar het na ‘n ruk teruggekeer.

“Januarie het hy van tand- en oorpyn gekla. Ons is dokter toe en hy het voorskrifmedikasie gekry wat oordruppels, antibiotika en ‘n pynmiddel insluit. Nie lank hierna nie het die skool gevra dat ek hom met ‘pampoentjies’ by die huis moet hou.”

Nadat Marlo ten spyte van nog medikasie nie verbeter het nie en omdat hul huisdokter met verlof was, het Marinet hom na ‘n ander dokter geneem.

“Die dokter het bevestig dat hy nie pampoentjies het nie. Omdat hy nie beter geword het nie, is ons ‘n week later terug en ‘n sonar gedoen is. ‘n Gewas is opgemerk en saam met sy uitslae het daar gestaan dat hy beslis verdere mediese toetse moes ondergaan.”

Hy is na ‘n professor verwys en aangesien hulle nie aan ‘n mediese fonds behoort nie, is hulle na Steve Biko Akademiese Hospitaal verwys.

“Ons is daarheen en het ‘n pediatriese chirurg gesien, maar die hospitaal se MRI-skandeerder was buite werking, waarna Marlo na Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg verwys is.”

Hy is op Donderdag 16 Maart 2023 opgeneem en die MRI-skandering is op ‘n Vrydag gedoen.

Marlo is ontslaan en hulle moes die Woensdag teruggaan vir uitslae. Met hul terugkeer is daar vir hulle gesê dat nog nie almal kans gehad het om sy uitslae te bestudeer nie en hulle is weer huis toe. Die wag het twee weke geduur.

“In hierdie tyd het ek agtergekom dat Marlo se slaappatroon verander het. Ek het in Marlo se mond gekyk en gesien dat sy tong snaaks draai, asof hy na ‘n ander kant toe groei. Met hierdie ontdekking het ek een van die dokters se persoonlike assistent op 17 Maart 2023 begin bel. Trouens, ek het haar gereeld gebel omdat ek baie bekommerd was.”

Marinet sê Marlo wou nie eers meer sy gunstelingkos eet nie.

“Op 30 Maart kry ek ‘n oproep van die hospitaal en hulle sê ek moet Marlo baie dringend inbring.”

Hiedie heen en weer ryery van waar Marinet met haar kinders, (Marlo is nie die enigste kind nie), noord van Pretoria in Cullinan woon, is nie maklik nie. Die ander twee kinders moes skoolgaan terwyl sy en Marlo deurentyd heen en weer is.

En sê sy, alhoewel sy voorbereid was dat iets fout was, dit ‘n groot skok was toe sy die middag met die dokter gesels nadat Marlo nog ‘n MRI-skandering ondergaan het.

“Die dokter het gesê dit lyk nie goed nie en het aan my bevestig dat dit ‘n gewas is wat na binne groei.”

Die gewas is by sy hoofslagaar en daar was vrese oor chirurgie. Marlo is ‘n week gelede weer in Nelson Mandela-kinderhospitaal opgeneem en hy kon nog lag en praat, wat hy tans nie meer kan doen nie. Hy het toe nog geen kankerbehandeling, chemoterapie of radiasie ontvang nie.

Dit lyk asof die betrokke kinderhospitaal se onkologiedepartement toe kan wees. Die deure is met kettings en ‘n slot toegemaak.

“19 Mei is Marlo weer teater toe waar daar met ‘n kamera in sy lies gekyk is om agter te kom hoe die gewas gevoer word. Daar is gevind dat dit nie are is wat die gewas volgens vermoede voer nie en ‘n biopsie is voorgestel om te probeer uitvind wat presies die gewas is.”

Dus is Marlo op 22 Mei terug teater toe vir die biopsie en op 28 Mei ontvang hul die gevreesde diagnose: “Marlo het kanker!”

Omdat die tipe kanker, die fase waarin dit is of die behandeling wat dit behels nie telefonies bespreek kon word nie, moes Marinet die dokters weer gaan spreek.

Intussen het sy tydens haar gesprek met ons op 29 Mei kommer uitgespreek oor die teenwoordigheid van ‘n knop in haar bors en genoem dat borskanker in haar familiegeskiedenis voorkom.

Alhoewel ‘n chemopoort vir Marlo aangebring is, was geen behandeling toegepas nie en moes Marinet hoor dat haar kleuterseun na Johannesburg Algemene Hospitaal oorgeplaas gaan word. Toe verlede Donderdag aanbreek en hy moet geskuif word, was daar egter ‘n groot kommunikasieprobleem wat dit verhoed het, omdat almal nie van Marlo kennis gedra het nie. Daar was ook nie vir hom ‘n bed beskikbaar nie.

Maar omdat Marlo en Marinet van Pretoria is, is daar voorgestel dat hy eerder na Steve Biko Akademiese Hospitaal moes teruggaan. Hulle wou hom egter nie die naweek ontslaan nie en om hom te vervoer, was ook nie eenvoudig nie.

“Hy moes per ambulans vervoer word, op geen ander manier nie, en daar is deur weldoeners ingespring om R8 000 bymekaar te kry om hom na Steve Biko te kan oorplaas,” sê Marinet dankbaar.

Soos voorgestel, is hy tans in Steve Biko Akademiese Hospitaal opgeneem, maar is die kommer steeds dat skandeerders nie werk nie en dat daar nie warm water beskikbaar is nie.

“Marlo is gisteroggend deur die dokters gesien met die belofte dat hulle hom weer vandag sal sien, maar is daar gesê dat stage-4 kanker vermoed word.”

Intussen het mamma Marinet laat verlede week vir ‘n borsbiopsie gegaan, waarna borskanker Maandagoggend bevestig is.

Beide ma en seun het nie ‘n mediese fonds nie en beide moet vir verdere toetse en die nodige behandeling gaan.

Intussen is die nuus ontvang dat Marlo vandag met chemoterapie begin het.

Marinet wil spesiaal dankie sê vir twee dokters – dr. A Bucher wat Marlo reeds vroeg by die hospitaal ingewag het en bereid was om so gou as moontlik met chemoterapie vir hom te begin. Asook dr. Vera van Balen vir Marlo se verblyfreëlings vir mamma, pappa of ouma wat by die hospitaal na Marlo moet gaan omsien.

Marinet het ook verder dank aan ER24 en Netcare 911 betuig wat Marlo so vinnig vervoer het en hom so mooi hanteer het.

Enigiemand wat hulle wil help, kan na die Please Pray For Marlo Goosen and his mommy! Both with cancer Facebook-blad gaan en kyk hoe hulle ‘n bydrae kan lewer. Daar kan jy op hoogte van beide se gesondheid gehou word.

“Bid vir ons, asseblief hou aan bid vir my en Marlo,” het Marinet hoopvol afgesluit.

Met nuus van Marlo se afsterwe het medelye van heinde en verre ingestroom.

Lindie Nel het op die Please Pray For Marlo Goosen And His Mommy! Both Warriors With Cancer Facebook-blad gesê Marlo het voor sy afsterwe ‘n terugslag ervaar en was terug hospitaal toe waarna die slegte nuus ontvang is dat kanker – meningeale karsinomatose – terug is in sy brein. Drukking op sy brein het aanvalle veroorsaak. Marlo sou die Dinsdag huis toe gaan, aangesien die dokters niks meer vir hom kon doen nie. Maar die jong seun het die tydelike met die ewige verwissel voordat hy weer huis toe kon gaan.

Foto: Verskaf

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App