Polisielede wat weens persoonlike redes in ‘n stadium die diens verlaat het, het gesien die polisie het 80 000 lede nodig om na behore te funksioneer en reageer deur te sê: “Die land en sy burgers moet vir ‘n slag eerste gestel word en verskonings om ons nie terug in diens te neem nie, moet nou ophou sodat ons, wat al vir meer as ‘n jaar baklei om terug te kom, ‘n kans kan kry.”
FiND iT het kontak met van hierdie oud-lede landswyd wat in dieselfde bootjie is.
Onder hulle is gesoute speurders en lede van ander eenhede soos PKRS wat volgens hulle “vandag ‘n oproep kan kry en môre in polisiestasies kan instap om ‘n positiewe bydrae te lewer in die geveg teen misdaad. Geen twyfel daaroor nie.”
Hierdie lede het reeds basiese en ander opleiding ondergaan en hulle ken die werk.
“Wanneer daar gekyk word na die ratio van lede in die mag teenoor die publiek wat bedien moet word, kyk ‘n mens tans na die realistiese getalle dat ‘n enkel polisielid tans ongeveer geskat meer as 600 mense tegelykertyd moet beskerm en dien. Dan word buitelanders in die land se getalle ook nog nie eers in ag geneem nie.”
“Hierdie skrale getalle van polisielede wat tans die werk verrig, is versprei regoor die spektrum met duisende wat in kantore sit, uniformlede en elke ander moontlike eenheid waaraan jy kan dink, asook die wat sake moet ondersoek.”
“Die mense is moeg en oorwerk. Die moraal is laag.”
Die polisie spog met ongeveer 10 000 nuwe lede en beoog nog so ‘n groot aantal nuwe rekrute wat moet help om die las te verlig.
“Dit is ‘n totale lagwekkende situasie, want al kom baie van hierdie nuwe lede nou uit kolleges uit, het hulle nie naastenby die ondervinding van die ou en gewillige hande nie.”
“Wat ook nie besef word nie, is dat baie van die aanstellings ook net in poste inbeweeg om ‘n salaris te ontvang in ‘n land waar werkloosheid hoogty vier en hulle nie noodwendig die passie het om regtig die mense van die land te dien nie.”
Hierdie lede het heraansoeke ingedien, psigometriese toetsings en onderhoude geslaag, maar is ongelukkig deur mediese toetsing uitgegooi.
Om vir mediese toetsing uitgegooi te word, klink redelik ernstig, maar die lede verduidelik:
“Ons probeer ‘n prentjie skep waarin ons daagliks foto’s van polisielede sien. En as ons die foto’s en klagtes so aanskou en aanhoor, kan ons nie glo dat sekere aansoekers op hul BMI afgekeur is, terwyl hulle brandmaer is teen van die mense wat in die foto’s verskyn. So ons is nie goed genoeg in die oë van die mediese toetsers wat nog nie een enkele dag saam met ‘n polsielid op voetvlak gewerk het nie. Genade, hulle weet nie eers hoe die ander lyk nie.”
Een van die aansoekers het op ‘n mediese vraelys op die vraag of hy rook aan die mediese werker gesê hy het gerook, maar het ‘n paar jaar reeds opgehou. Hy is as ‘n roker gemerk en afgekeur.
“Hoeveel rokers is tans in die polisie? En dit maak nie saak hoeveel ek al intussen baklei het oor die vals aantekening op my dokument nie, dit val op dowe ore.”
“Kom ons kyk feite in die oë. Daar is mense in die polisie wat baie sieklik is en ons word afgekeur as gevolg van ‘n paar kilogramme (en ons praat nie van mollig of vet nie), bloeddruk wat ons privaat dokters agterna gemonitor en op skrif gesit het dat dit reg is, en dieselfde met cholesterol – is nie eers aanvaar nie. Apparate wat nie gekalibreer is nie, het vir ons probleme met die medies veroorsaak, en die lys van klagtes gaan aan.”
Hierdie lede voel dat daar medies gesproke teen hulle gediskrimneer word, aangesien baie van hulle, indien hulle siektetoestande het, se mediese siektes as werksverwant gekoppel kan word. Daar word ook gevoel dat hierdie lede op ‘n ander tipe manier geëvalueer moet word as jong kollegerekrute. Een is selfs afgekeur vir die mediasie waarop sy is as gevolg van PTSD wat sy in die polisie opgedoen het.
“Maar niemand is bereid om ons in die oë te kyk en ‘n ordentlike antwoord op ons vrae te gee nie; dis makliker om ons wat die werk wil en kan doen, weg te gooi. Wat het ons vorige jare en opleiding dan beteken?”
“Ons het al orals vir hulp aangeklop. Solidariteit, DA en vele ander plekke vir hulp en ons kry net nie positiewe hulp nie. Ons wil graag ‘n afspraak met minister Bheki Cele self maak in Gauteng en die Wes-Kaap sodat hy ons mediese dokumente (wat in ons besit is) kan sien en na ons kan luister en dan vir ons kan sê of ons goed genoeg is om die werk te doen om die mense van die land te beskerm.”
“Luister, kom ons maak die somme, die polisie het ons opgelei op verskillende vlakke en ons as goed genoeg geag om ‘n paar duisend rand verder as heraansoekers te betaal om vir ons mediese afsprake te verseker. Hoekom is hierdie geld gemors as die offisssiere wat ons onderhoude gevoer het dan kon sien dat ons nie weer sou regkom nie.?Is die geld wat tot nou op ons uitgegee is dan nie beleggings nie?”
“Ons is hier om te werk, ons is reg om die land en sy burgers te dien. As ons net die geleentheid gegun word.”
Hierdie oud-lede maak dit duidelik dat hulle steeds baie trots is op die polisie en graag wil terugkeer. Hulle is uit om verskeie persoonlike redes en vra dat daar nie teen hulle gediskrimineer sal word nie, want hulle wil graag die werk doen.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.





