GAUTENG. – ‘n Substasie en verskeie huise het oor die bestek van dae in die voorstede van Valhalla, Pretoria Tuine en Lynnwood, Pretoria, gebrand. In sommige van die voorvalle is persone vir rookinaseming behandel.
Tebogo Maake van die Tshwane-nooddienste sê die Valhalla-substasie het op Dinsdag, 20 Mei, gebrand. Twee brandweerwaens, ’n brandweerwa met ‘n leer, ‘n skuimvoertuig, ‘n watertrok en twintig brandbestryders is ontplooi. Die brand is beperk tot die transformator en het nie na aangrensende geboue versprei nie. Een transformator is beskadig, maar geen beserings is aangemeld nie. Die Tshwane-metropolisie en die SAPD ondersoek die oorsaak van die brand.
Op Vrydagaand, 23 Mei, het Tshwane-nooddienste 2025 ’n brand by ’n huis in Atlasstraat 26, Valhalla, geblus. Die huis was volledig in vlamme gehul en vyf brandweerwaens is ontplooi. ’n Buitewoonstel is ook gedeeltelik beskadig. Drie persone van die hoofhuis is vir rookinaseming behandel en vir verdere mediese behandeling na Groenkloof-hospitaal vervoer.
Saterdagoggend het ‘n huis in Louisestraat 937 in Pretoria Tuine in vlamme gestaan. Ses voertuie, insluitend ’n brandweerwa, ‘n leerwa en ‘n reaksie-eenhede, is ontplooi. Vier slaapkamers, die kombuis, eetkamer en sitkamer is deur die brand geraak. Twee inwoners is vir rookinaseming behandel en na Pretoria-Wes Hospitaal geneem. Die polisie ondersoek die oorsaak van daardie brand.
‘n Paar uur later het Tshwane-nooddienste hulle na ‘n brandende huis in Flinderslaan 459, in Lynnwood, gehaas. Met aankoms was die huis en die motorhuis reeds in vlamme en ’n voertuig in die motorhuis was reeds vernietig. Twee brandweerwaens, ’n reaksie-eenheid en ’n bevelvoertuig is ontplooi. ‘n Persoon is vir rookinaseming behandel en daarna vir verdere mediese behandeling na Groenkloof-hospitaal geneem. Brandbestryders kon vier vertrekke, insluitend ’n aparte woonstel, red. Die oorsaak van dié brand word ondersoek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





