VRYSTAAT. – Vier beweerde huisrowers wat ‘n gesin van Harrismith oorval en aangehou het, is met vinnige optrede van die polisie in hegtenis geneem.
Sers. Mahlomola Kareli sê die familie het geslaap toe die man (53) geluide buite gehoor het. Hy het ondersoek ingestel en toe hy glo weer in die huis in die gang af stap, het hy ‘n gewapende verdagte vanuit die hoofslaapkamer teëgekom. Hy is na bewering beveel om na die hoofslaapkamer te gaan waar sy vrou en seun was. Die verdagte, wat glo ‘n polisiepet opgehad het, het nog twee verdagtes die huis in geroep, waarna die drie die huis geplunder het. Selfone, ‘n televisie en ander elektroniese toerusting is gebuit.
Die verdagtes, wat almal hulle gesigte vermom het, het daarna van die toneel gevlug.
Kareli sê Harrismith-polisie is na die toneel ontbied en ‘n soektog na die verdagtes is dadelik geloods. Vier verdagtes, tussen 18 en 32 jaar, is in hegtenis geneem en die gesteelde items, sowel as ‘n speelgoedwapen en ‘n polisiepet, is by die verdagtes gevind.
Die vier verdagtes sal binnekort op ‘n aanklag van huisroof in die Harrismith-landdroshof verskyn.





